Animaniacs in Beeld this morning
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/K ... e-20130326Koi-dam red sy leweEmalahleni (Witbank). – Die eienaar van ’n troeteldierwinkel moes in ’n koi-dam spring om te keer dat hy deur vlamme verswelg word.
Henry Kemp, eienaar van Animaniacs in dié dorp, het juis in sy brandende winkel in die Izindlu Village-kompleks ingehardloop om te probeer om van sy eksotiese diere te red.
Hy kon nie uitkom nie weens die vlamme wat net meer en meer geword het.
Kemp (35), ’n pa van twee klein kinders, het sowat 40% brandwonde aan sy bene en arms opgedoen en is gistermiddag na die brandeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.
“Dié is aardse goed. Al wat nou vir ons belangrik is, is my broer,” het Cozette Beck, mede-eienaar van die Izindlu Village-kompleks en Kemp se suster, gister gesê. Beck het eergister omstreeks 23:00 ’n oproep van ’n veiligheidsmaatskappy gekry dat ’n alarm in die kompleks afgegaan het.
Sy het Kemp, wat by Animaniacs met eksotiese diere soos luislange en likkewane teel, gevra om te gaan kyk omdat hy naby die kompleks bly.
Animaniacs is een van agt winkels in dié kompleks. Almal het afgebrand.
“Toe my broer om die draai kom, het hy die vlamme gesien,” het Beck gesê.
“Hy het diere in kwarantyn en het by die winkel ingegaan om te kyk of hy hulle kan red.
“Dit is wie hy is. Die diere is sy lewe. Henry is deur die vlamme oorval. Dit klink asof dit nie die vlamme is wat hom gebrand het nie, maar die hitte.
“Ons het buite gestaan en gehoor hoe hy skree: ‘Help my, help my.’
“Ek het vir hom geskree om in een van die koi-damme in te spring wat hy toe gedoen het.”
Volgens Beck het brandweermanne oor mure aan die agterkant van die kompleks geklim en Kemp van die agterkant af gered. Albei sy arms, van sy hande tot by sy elmboë en albei sy bene, van sy voete tot by sy knieë, het gebrand.
Die diere wat doodgebrand is, is twee boas, 55 luislange (ball pythons), 20 koringslange, 300 spinnekoppe, 20 koi-visse, ’n paar Amasone-papegaaie, ander kleiner voëls en tarantulas. Van die diere wat gered is, is na ’n veearts in Pretoria geneem, terwyl die res deur Kemp se ouers versorg word.
Beck het gesê die skade aan die geboue beloop tussen R8 miljoen en R9 miljoen.
Zandra Mulder en Aneesa Gani, mede-eienaars van die La Rochelle-haarsalon, het in Februarie hul winkel klaar gerestoureer. “Ons huil en ons huil en ons huil. Almal hier was soos familie.”